Vertalings van dié bladsy
Dit het deesdae mode geword om kopiereg, patente, en handelsmerke te beskryf as "Intellektuele Eiendom". Hierdie mode het nie toevallig ontstaan nie--die term is ontwerp om hierdie konsepte sistematies te verdraai en te verwar, en die gebruik daarvan is en word aangemoedig deur diegene wat kan baat by hierdie verwarring. Enigiemand wat nugter oor enige van hierdie wette wil dink sal dit voordelig vind om dié term te verwerp.
Een effek van die term is 'n ooglopende bevooroordeling: dit stel 'n denkwyse voor wat kopiereg, patente en handelsmerke in analogie plaas met eiendomsreg, wat van toepassing is op fisiese voorwerpe. (Dié analogie is teenstrydig met die wetlike filosofieë onderliggend aan kopiereg, patentereg, en handelsmerkreg, 'n feit wat net van spesialiste verwag word om te weet.) Hierdie wette het, om die waarheid te sê, nie baie in gemeen met fisiese eiendomswet nie, maar die gebruik van hierdie term lei wetsontwerpers om dié wette aan te pas sodat dit meer in gemeen het daarmee. Omdat hierdie die veranderinge is wat maatskappye wat kopiereg uitoefen wil bewerkstellig, is dit juis sulke maatskappye wat hulself daartoe beywer om die term "Intellektuele Eiendom" gewild te maak.
Volgens Professor Mark Lemley, van die Stanford Law School, is die wydverpreide gebruik van die term "Intellektuele Eiendom" 'n gier wat gevolg het op die stigting van die World "Intellectual Property" Organization in 1967, en het die term eers in die laaste paar jaar baie algemeen geraak. (WIPO is amptelik 'n UN organisasie, maar dit verteenwoordig eintlik die belange van houers van kopiereg, patente en handelsmerke.)
Diegene wat sou verkies om hierdie aangeleenthede op meriete te beoordeel behoort so 'n bevooroordeelde term daarvoor te verwerp. Baie mense het my gevra om 'n ander naam vir die kategorie voor te stel--of het self alternatiewe voorgestel. Voorstelle sluit in IMPs, vir "Imposed Monopoly Privileges", and GOLEMs, vir "Government-Originated Legally Enforced Monopolies". Sommige praat van "exclusive right regimes", maar dit lei tot die verwysing na inperkinge as regte, wat dubbeldenkery is.
Dit is egter 'n fout om "Intellektuele Eiendom" met enige ander term te vervang. 'n Ander naam kan dalk die bevooroordeling verwyder, maar dit sal nie die dieper kernprobleem van die term oplos nie, naamlik oorveralgemening. Daar bestaan nie 'n enkele konsep soos "Intellektuele Eiendom" nie. Dit is 'n drogbeeld, wat blyk te bestaan bloot omdat die term dit suggureer.
Die term "Intellektuele Eiendom" dien as 'n omvattende term om totaal verskillende wette saam te groepeer. Nie-wetsgeleerdes wat die term "Intellektuele Eiendom" hoor in toepassing tot hierdie verskillende wette neig om aan te neem dat hulle inkarnasies van 'n gemeenskaplike beginsel is, en dat hulle eenders funksioneer. Niks kan verder van die waarheid af wees nie.
Hierdie wette het apart tot stand gekom, apart ontwikkel, dek verskillende aktiwiteite, het verskillende reëls, en spreek verskillende publieke beleidsprobleme aan. Kopiereg was ontwerp om outeurskap en kuns te bevorder, en dek die besonderhede van 'n outeurswerk of kunswerk. Patentereg is bedoel om die publikasie van idees te bevorder, ten koste van beperkte monopolisering daarvan--'n prys wat in sekere velde die moeite werd mag wees om te betaal, en nie in ander nie. Handelsmerkreg was nie bedoel om enige besigheidsaktiwiteite te bevorder nie, maar om eenvoudig kopers te laat weet wat hulle koop; nietemin, wetsontwerpers onder die invloed van "Intellektuele Eiendom" het dit verander in 'n skema wat insentiewe vir advertensie genereer (sonder om die publiek te vra of ons nog advertensie wil hê al dan nie).
Omdat hierdie wette onafhanklik van mekaar ontwikkel het, is hulle verskillende in elke fyn besonderheid sowel as in hulle basiese doelstellings en metodes. As jy dus 'n arbitrêre feit neem in kopiereg, behoort jy aan te neem dat patentereg daaroor sal verskil. Jy sal selde verkeerd wees as jy dié benadering volg!
Leke is nie die enigstes wat deur hierdie term verwar word nie. Ek vind gereeld dat kenners op die gebied van patentereg, kopiereg, en handelsmerkreg, selfs professore in regte wat in hierdie vakke klasgee, deur die verleidelikheid van die term "Intellektuele Eiendom" gelok word om algemene stellings te maak wat die feite wat aan hulle bekend is weerspreek. Die term trek hulle aandag van hulle eie kennis af weg.
Mense sê dikwels "Intellektuele Eiendom" as hulle eintlik 'n ander kategorie, groter of kleiner as "Intellektuele Eiendom" bedoel. Byvoorbeeld, ryk lande dwing wette op arm lande af om meer geld uit hulle te pers. Hierdie wette pas in die kategorie van "Intellektuele Eiendom"--sodat mense wat die regverdigheid van hierdie wette bevraagteken dikwels daardie stempel daarop plaas, self al pas dit nie regtig nie. Dit kan lei tot valse uitlatings en vertroebelde denke. Vir hierdie onderwerp stel ek voor om 'n term soos "legislatiewe kolonialisasie" te gebruik, wat fokus op die sentrale aspek van die onderwerp, in plaas van die term "Intellektuele Eiendom". Vir ander onderwerpe sal die term wat die onderwerp beskryf verkillend wees.
Die term "Intellektuele Eiendom" lei ook tot simplistiese denke. Dit lei mense om net te fokus op die kommunaliteit in vorm van hierdie verskillende wette, naamlik dat hulle almal spesiale magte genereer wat gekoop en verkoop kan word, en om die inhoud te ignoreer--die spesifieke beperkinge wat elkeen daarvan op die publiek plaas, en die gevolge daarvan.
Op so 'n groot skaal, kan mense nie eers die spesifieke publieke beleidsprobleme sien wat deur kopiereg geskep word, of die verskillende probleme wat uitgelig word deur patentereg, of enige van die ander wette nie. Hierdie probleme ontstaan uit die besonderhede, presies dit wat die term "Intellektuele Eiendom" mense aanmoedig om te ignoreer. Byvoorbeeld, een probleem wat betrekking het op Kopiereg is of musiek gedeel (share) mag word al dan nie. Patentereg het niks hiermee te doen nie. Patentereg laat wel die vraag ontstaan of arm lande mag toegelaat word on lewensnoodsaaklike medisyne self te vervaardig, en om dit goedkoop te verkoop om lewens te red. Kopiereg het niks hiermee te doen nie. Geeneen van hierdie probleme is 'n blote ekonomiese probleem nie, en enigiemand wat daarna kyk in die vlak ekonomiese perspektief van oorveralgemening kan dit nie begryp nie. Dus, enige opinie aangaande "die probleem van Intellektuele Eiendom" is amper sonder uitsondering dwaas. As jy dink dat dit een probleem is, sal jy neig om net opinies te oorweeg wat al hierdie wette eenders hanteer. Wat jy ookal kies, dit maak nie sin nie.
As jy helder wil dink oor die probleme wat deur patente uitgelig word, of kopiereg, of handelsmerke, of selfs wil leer wat hierdie wette sê, is die eerste stap om die idee om hulle bymekaar te groepeer heeltemal te vergeet, en hulle as aparte individuele onderwerpe te hanteer. As jy artikels wil skryf wat die publiek inlig en wat helderdenkendheid bevorder, hanteer elkeen van hierdie wette apart; moenie veralgemening oor hulle insinueer nie.
En as dit kom by die reformering van die WIPO, laat ons onder ander 'n naamverandering voorstel.
Translations of this page:
[
Afrikaans
| Deutsch
| English
| Français
| Italiano
| Polski
]
Return to the GNU Project home page.
Please send FSF & GNU inquiries to
gnu@gnu.org.
There are also other ways to contact
the FSF.
Please send broken links and other corrections (or suggestions) to
webmasters@gnu.org.
Please see the Translations README for information on coordinating and submitting translations of this article.
Copyright (C) 2004 Richard M. Stallman
Verbatim copying and distribution of this entire article is
permitted worldwide without royalty in any medium provided
this notice is preserved.
Updated: $Date: 2006/12/11 19:58:42 $ $Author: alex_muntada $